William Walton

Sir William Turner Walton, OM (29 Maart 19028 Maart 1983) was 'n Engelse komponis. Gedurende sy loopbaan van sestig jaar het hy musiek in verskeie klassieke genres en style geskryf; van musiek vir rolprente tot opera.

Christ Church, Oxford, waar Walton 'n koorleier was en later 'n ondergraadse student

Walton is gebore in 'n musikale gesin in Oldham, Lancashire, as die tweede seun in 'n gesin van drie seuns en 'n dogter. Sy vader, Charles Alexander Walton, was 'n musikant wat aan die Royal Manchester College of Music onder Charles Hallé opgelei is, en 'n bestaan gemaak het as sangonderwyser en kerkorrelis. Charles se vrou, Louisa Maria (née Turner), was 'n sangeres voor hul huwelik.[1]

Walton se musikale talente is raakgesien toe hy nog 'n jong seun was. Hy het klavier- en vioollesse geneem, alhoewel hy nooit een van die instrumente bemeester het nie. Hy was meer suksesvol as sanger:[2] Hy en sy ouer broer het in hul vader se koor gesing en deelgeneem aan opvoerings van grootskaalse werke deur Händel, Haydn, Mendelssohn en ander.[3]

Sy vroegste werk van statuur, Façade, is geskryf in samewerking met Edith Sitwell en het aan hom berugtheid besorg as 'n modernis. Dit was later 'n gewilde balletstuk.

In sy middeljare het Walton Groot-Brittanje verlaat en op die Italiaanse eiland Ischia gewoon saam met sy jong vrou Susana. Teen die tyd is hy nie meer beskou as 'n modernis nie, en sommige van sy werke van die 1950's is gekritiseer as oudmodies.

Sy vollengte-opera Troilus and Cressida was van die werke wat as oudmodies gesien is, en het min impak op operahuise gehad. In sy laaste jare het sy werke weer hernieude aandag geniet. Sy latere werke, wat deur kritici verwerp is tydens hul eerste vertonings, is herwaardeer saam met van sy vroeëre werke.

Walton was 'n stadige werker en 'n perfeksionis, en derhalwe is die totale omvang van sy werk nie groot nie. Sy gewildste werke word nog steeds gereeld uitgevoer in die 21ste eeu, en teen 2010 is al sy werke op CD vrygestel.

Van sy belangrikste werke is die begeleidende musiek vir Façade, 'n reeks gedigte deur Edith Sitwell, die kantate Belshazzar's Feast, die Concerto's vir onderskeidelik altviool, viool en tjello, die 1ste Simfonie, en die Britse koronasieliedere Crown Imperial en Orb and Sceptre.

  1. Kennedy, p. 5
  2. Greenfield, Edward. "Behind the Façade – Walton on Walton", Gramophone, Februarie 2002, p. 93
  3. Kennedy, p. 6

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search